Ons gaan die naweek kamp en ek stop vinnig oppad huistoe by die Spar. BB hol tussen die rakke rond en terwyl ek een oog op haar hou probeer ek gou menus in my gedagtes uitwerk.
Ek koop iets vir 2 aandetes, 2 ontbyte, 2 middag etes en iets om aan te knibbel in die kar. Dan val dit my by G4 is soos 'n kwaai generaal as dit by sy bakkie kom en sit eerder die klein pakkies Lays terug. Ek probeer iets kry wat nie gaan krummel/smelt/taai raak of stort nie. Al wat ek kry is ystee in 'n suigbottel..Ek besluit om eerder iets vir BB te maak voor ons vertrek en sodoende die vrede te bewaar.
By die huis gekom maak ek gou iets vir BB en pak terselftertyd in. Ek soek die lekker stewige boks wat ek spesiaal bewaar het vir kos, net om uit te vind G4 het dit weggegooi. Ek soek iets anders en pak maar 'n rottang laai uit om dit vir ons kos te gebruik. In die proses verbrand ek amper BB se kos en het nou nog 'n aangebrande pan ook om skoon te maak.
Ek vloek myself omdat ek (nog steeds) nie 'n voorafgestelde lysie het van wat moet in nie. Ek dreig al lank om dit te lamineer en teen die yskas op te sit.
My kop werk oortyd, Blitz, muskiet afweerder, warm goed, handoeke, vuurhoutjies, olie, aartappels, potte, sonbrandolie, seep ens, ens.
Ek sit die beddegoed reg op ons bed en vra vir G4 om dit in te pak. Ek vra ook vir BB om die flitslig en skoene te bring.
Hot chocolate, kondensmelk en ander bederf goedjies word ook gegryp.
Oops, 'n badprop en BB se swembad noedel.
G4 skakel die bakkie aan. Wat is dit met mans en hul diesel bakkies wat vir 'n halfuur moet staan en luier?
Stoele, eetgerei en die gasbottel wat nou by die gas verwarmer ingedraai is.
BB sit nou al saam met G4 in die bakkie. Helfte van die huis se vensters en die agterdeur is oop. Ek sluit toe, die toilet se bak lek, ek maak dit gou reg. Oppad van die lekkende toilet stap ek verby ons bed en sien ek die helfte van die beddegoed nog le. Ek raap dit op, kry BB se skoene in die gang, gryp my sak en probeer die voordeur met my vol hande sluit. Oppad bakkie toe tel ek die flitslig op waar BB dit gelos het en sien my tripod vergete langs die bakkie staan. Ek klim met die al die ekstra bagasie in, daar is skaars plek vir my voete.
Terwyl ons ry maal my kop nog en probeer ek onthou waar ek die eierspaan ingedruk het.
By die kampeerplek klim ons uit en ek help tent opslaan terwyl ek seker maak BB trap nie op die veselglas tentpaaltjies nie.
Ek val later moeg op 'n stoel neer.
G4 kom nader: "Bokkie, ek wil braai, waar het ONS die vuurhoutjies en Blits ingepak?".
No comments:
Post a Comment