Monday, December 8, 2014

Cloud's cottage, Alfred's pas

Voor G4 in ons lewe gekom het, het ek en BB die Alfred's pas gery tussen Knysna en Uniondale.

 Dink immermooi bome, varings en interessante fynbos.  Die bos.  Dalene Matthee wereld. Houtkappers, patats en olifante..en die bloubokkie wat se gal nie in sy kop sit nie.  Ja, ek was gelukkig om Kringe in 'n Bos as voorgeskrewe boek op skool te kon hê.



Soos ons ry kon ek Dalene Matthee se liefde vir die bos verstaan.  Dit is misterieus mooi, regtig 'n wonderwereld vol klein skoenlappers, varings en groot bome wat stoei teen die sontrale wat plek-plek wen en interessante patrone oor die pad gooi.


'n Perd het lui lui die pad opgestruikel, beeste wei rustig langs die pad en ons het tot verby Nuweland gery!



Ons het baie gestop vir fotos en BB het soos 'n feetjie tussen die varings gespeel en skoenlappers gejaag.





Ek het al lankal vir G4 gese ons moet weer die pad ry maar die keer oorbly ook.  Ek het op Cloud's cottage besluit omdat die bad so heerlik gelyk het.



Wat 'n goeie besluit was dit nie.  Christopher het ons al vroeg die oggend geskakel en laat weet dat daar probleme op die pas is.  "n Vragmotor het omgeslaan en versper die pad.  Hy het ons gewaarsku dat die pad seker eers weer teen 12-uur sal oop wees.

Ons het besluit om later te vertrek vanaf Klein Brak.  Ons het ook baie gestop, eers by die George mark, wat baie besig was maar ek dink nogals duur is. Ons was effens te laat vir die Sedgefield mark, maar uit ondervinding dink ek dié mark is steeds beter as die George mark.  Intussen het Christopher ons weer geskakel met inligting oor die pas.

Die pas is steeds mooi, maar ek dink dit is beter om dit vroeg oggend of laatmiddag te ry dat die lig die berge omtoor in 'n wonderwereld.

Ons het by Annie's G-spot gestop vir 'n drankie.  Almal was vasgenael voor die TV en na snaakse maniere om dood te gaan te kyk.  Eienaardig..op 'n lieflike dag wil ek eerder buite wees!



Ons tuiste was 7km verder.


G4 het begin bekommerd lyk toe hy van die gehuggies langs die pad sien!
Ons het die afdraai gesien en is gegroet deur 'n erg onstelde Eve.


'n Swerm bye het hulle bokke getakel asook vir haar.  Hulle het maar die hekke oopgemaak om die bokke wegkomkans te gee.  Die arme bokke het orals in verdwyn.

Ons is na ons huisie gewys..en watter verrassing was dit nie!

 Dit is wondermooi, uit klip gekap en met die klip as deel van die huisie gehou.  Daar is 2 slaapkamers, met slaapplek vir 6.  Dit is volledig toegerus, gasoond en yskas inkluis,met klein dingetjies soos flitsligte, seep en muskietafweerder.

Warm water word deur 'n donkie verskaf en lig deur paraffien lampe.  Vir hitte is daar 'n ingeboude kaggel en lieflike witter as wit dons duvets.

Ons het gaan stap op die werf, die melkery besoek waar Eve die bokke afgespons het met wildedagga.  Daar is ook varke, hoenders, beeste en perde.  Al die bokke en beeste het klokkies, so mens voel asof jy in Switserland is.  Die hoenders is free range hoenders, die sg Boschveld hoenders.  Hulle bestaan uit 3 Afrika hoenders wat hulle baie gehard maak.

Skemer het ons 'n lieflike bad geneem met 'n uitsig.  Later het ons voor die kaggel ontspan voor ons onder die dik duvets ingeseil het vir die nag.

Die volgende oggend het ons weer rondgestap en lieflike swemgate ontdek. Ons was egter te lui om tot daar af te stap!



Ons het die Avontuur pad teruggeneem, en ek het myself belowe om weer terug te keer, maar met BB.

No comments:

Post a Comment