Tuesday, December 30, 2014

Hartebeeskuil Dam

Ek wonder wat is die amptelike definisie van 'n kampplek.
Is daar sekere minimum vereistes, of kan enige mens met 'n lappie grond dit beskikbaar stel

en siedaar, vra 'n lekker fooi en noem jouself 'n kampplek!

Ek het so 'n gevoel dit is wat gebeur het by Hartbeeskuil dam net buite Hartenbos.  Daar was seker

een maal oor 'n paar biere besluit om dit 'n kampplek te maak.


Daar is 'n portatoilet..die soort wat kan omval in sterk wind.  Jy kan gaan stort langs die huis na 'n ver geloop.  Daar is werklik niks hier nie..motorfietse word ook nie toegelaat nie.


Ons het familie oorgenooi vir 'n vinnige braai maar verder is hier nie veel om te vertel nie.



Dit sal wel lekker wees as mens saam met iemand kan visvang of net rondlê en lees.  Ongelukkig doen G4 nie een van die twee nie, so dit was maar 'n lang naweek.





Die hoogtepunt was die mak wildebees oppad terug.



 Daar kan meer opgelees word oor die visvang kondisies hier by Hartebeeskuil Visvang.

Monday, December 29, 2014

Hoeveel onse is in jou pond?

Hoeveel onse is in jou pond?

Ons gaan die naweek kamp en ek stop vinnig oppad huistoe by die Spar. BB hol tussen die rakke rond en terwyl ek een oog op haar hou probeer ek gou menus in my gedagtes uitwerk.
Ek koop iets vir 2 aandetes, 2 ontbyte, 2 middag etes en iets om aan te knibbel in die kar.  Dan val dit my by G4 is soos 'n kwaai generaal as dit by sy bakkie kom en sit eerder die klein pakkies Lays terug.  Ek probeer iets kry wat nie gaan krummel/smelt/taai raak of stort nie.  Al wat ek kry is ystee in 'n suigbottel..Ek besluit om eerder iets vir BB te maak voor ons vertrek en sodoende die vrede te bewaar.
By die huis gekom maak ek gou iets vir BB en pak terselftertyd in.  Ek soek die lekker stewige boks wat ek spesiaal bewaar het vir kos, net om uit te vind G4 het dit weggegooi.  Ek soek iets anders en pak maar 'n rottang laai uit om dit vir ons kos te gebruik.  In die proses verbrand ek amper BB se kos en het nou nog 'n aangebrande pan ook om skoon te maak.

Ek vloek myself omdat ek (nog steeds) nie 'n voorafgestelde lysie het van wat moet in nie.  Ek dreig al lank om dit te lamineer en teen die yskas op te sit.

My kop werk oortyd, Blitz, muskiet afweerder, warm goed, handoeke, vuurhoutjies, olie, aartappels, potte,  sonbrandolie, seep ens, ens.

Ek sit die beddegoed reg op ons bed en vra vir G4 om dit in te pak. Ek vra ook vir BB om die flitslig en skoene te bring.

Hot chocolate, kondensmelk en ander bederf goedjies word ook gegryp.

Oops, 'n badprop en BB se swembad noedel.

G4 skakel die bakkie aan.  Wat is dit met mans en hul diesel bakkies wat vir 'n halfuur moet staan en luier?

Stoele, eetgerei en die gasbottel wat nou by die gas verwarmer ingedraai is.

BB sit nou al saam met G4 in die bakkie.   Helfte van die huis se vensters en die agterdeur is oop. Ek sluit toe, die toilet se bak lek, ek maak dit gou reg.  Oppad van die lekkende toilet stap ek verby ons bed en sien ek die helfte van die beddegoed nog le.  Ek raap dit op, kry BB se skoene in die gang, gryp my sak en probeer die voordeur met my vol hande sluit.  Oppad bakkie toe tel ek die flitslig op waar BB dit gelos het en sien my tripod vergete langs die bakkie staan.  Ek klim met die al die ekstra bagasie in, daar is skaars plek vir my voete.

Terwyl ons ry maal my kop nog en probeer ek onthou waar ek die eierspaan ingedruk het.

By die kampeerplek klim ons uit en ek help tent opslaan terwyl ek seker maak BB trap nie op die veselglas tentpaaltjies nie.
Ek val later moeg op 'n stoel neer.

G4 kom nader:  "Bokkie, ek wil braai, waar het ONS die vuurhoutjies en Blits ingepak?".

Monday, December 8, 2014

Cloud's cottage, Alfred's pas

Voor G4 in ons lewe gekom het, het ek en BB die Alfred's pas gery tussen Knysna en Uniondale.

 Dink immermooi bome, varings en interessante fynbos.  Die bos.  Dalene Matthee wereld. Houtkappers, patats en olifante..en die bloubokkie wat se gal nie in sy kop sit nie.  Ja, ek was gelukkig om Kringe in 'n Bos as voorgeskrewe boek op skool te kon hê.



Soos ons ry kon ek Dalene Matthee se liefde vir die bos verstaan.  Dit is misterieus mooi, regtig 'n wonderwereld vol klein skoenlappers, varings en groot bome wat stoei teen die sontrale wat plek-plek wen en interessante patrone oor die pad gooi.


'n Perd het lui lui die pad opgestruikel, beeste wei rustig langs die pad en ons het tot verby Nuweland gery!



Ons het baie gestop vir fotos en BB het soos 'n feetjie tussen die varings gespeel en skoenlappers gejaag.





Ek het al lankal vir G4 gese ons moet weer die pad ry maar die keer oorbly ook.  Ek het op Cloud's cottage besluit omdat die bad so heerlik gelyk het.



Wat 'n goeie besluit was dit nie.  Christopher het ons al vroeg die oggend geskakel en laat weet dat daar probleme op die pas is.  "n Vragmotor het omgeslaan en versper die pad.  Hy het ons gewaarsku dat die pad seker eers weer teen 12-uur sal oop wees.

Ons het besluit om later te vertrek vanaf Klein Brak.  Ons het ook baie gestop, eers by die George mark, wat baie besig was maar ek dink nogals duur is. Ons was effens te laat vir die Sedgefield mark, maar uit ondervinding dink ek dié mark is steeds beter as die George mark.  Intussen het Christopher ons weer geskakel met inligting oor die pas.

Die pas is steeds mooi, maar ek dink dit is beter om dit vroeg oggend of laatmiddag te ry dat die lig die berge omtoor in 'n wonderwereld.

Ons het by Annie's G-spot gestop vir 'n drankie.  Almal was vasgenael voor die TV en na snaakse maniere om dood te gaan te kyk.  Eienaardig..op 'n lieflike dag wil ek eerder buite wees!



Ons tuiste was 7km verder.


G4 het begin bekommerd lyk toe hy van die gehuggies langs die pad sien!
Ons het die afdraai gesien en is gegroet deur 'n erg onstelde Eve.


'n Swerm bye het hulle bokke getakel asook vir haar.  Hulle het maar die hekke oopgemaak om die bokke wegkomkans te gee.  Die arme bokke het orals in verdwyn.

Ons is na ons huisie gewys..en watter verrassing was dit nie!

 Dit is wondermooi, uit klip gekap en met die klip as deel van die huisie gehou.  Daar is 2 slaapkamers, met slaapplek vir 6.  Dit is volledig toegerus, gasoond en yskas inkluis,met klein dingetjies soos flitsligte, seep en muskietafweerder.

Warm water word deur 'n donkie verskaf en lig deur paraffien lampe.  Vir hitte is daar 'n ingeboude kaggel en lieflike witter as wit dons duvets.

Ons het gaan stap op die werf, die melkery besoek waar Eve die bokke afgespons het met wildedagga.  Daar is ook varke, hoenders, beeste en perde.  Al die bokke en beeste het klokkies, so mens voel asof jy in Switserland is.  Die hoenders is free range hoenders, die sg Boschveld hoenders.  Hulle bestaan uit 3 Afrika hoenders wat hulle baie gehard maak.

Skemer het ons 'n lieflike bad geneem met 'n uitsig.  Later het ons voor die kaggel ontspan voor ons onder die dik duvets ingeseil het vir die nag.

Die volgende oggend het ons weer rondgestap en lieflike swemgate ontdek. Ons was egter te lui om tot daar af te stap!



Ons het die Avontuur pad teruggeneem, en ek het myself belowe om weer terug te keer, maar met BB.