Wednesday, April 1, 2015

Baviaanskloof Boplaas


Ons het die karavaan by Bokloof gehuur vir 2 dae by die Baviaans.  Ons het die keer met die bakkie gery want BB gaan vir die eerste keer saam Baviaans toe!  
Ons eerste stop was ‘n padstal van die Outeniekwa pas oppad Uniondale toe wat die slegste fudge wat ek al my lewe geeet het verkoop.  Dit is net ‘n klomp onopgeloste suiker met of neute of koffie gegeur.  Hou asseblief verby!! 
Ons laaste stop voor Baviaans was by Uniondale waar ons ietsie geeet het.  Die gevulde aartappels was heerlik maar die borde teen die muur was verwarrend, om die minste te se! 

Die afdraai Baviaans het spoedig hierna gevolg.  Daar was ‘n grasieuse Kudu langs die pad wat vir ‘n rukkie saam met ons gehardloop het.  

 Bokloof is nie te ver in die Baviaans nie en maklik om te kry.  

Die karavaan is by ‘n dam en hoe kranse omring dit.  Toiletgeriewe is naby wat warm storte en spoel toilette insluit  Die karavaan is ook met krag toegerus.  Daar was ‘n kano by die dam en BB het haar verbeel sy is Ponchahontis. 

Ons het later die middag ‘n ent gaan stap langs ‘n potblou riviertjie wat orals diep poele vorm.  

Die donderweer wolke het egter begin saamdrom en ons het besluit om eerder terug te keer karavaan toe.  Die vuur het net lekker begin brand toe die storm in alle erens losbreek.  Dit was ‘n wonderlike gesig met die weerlig wat lang kettings in die hemel ruim afhardloop.  Dit was heerlik om die aand in die reen aan die slaap te raak.


Die volgende oggend het ons besluit om ‘n wandelroete in een van die klowe aan te pak.  Skollie die werfbrakkie was ons baie aangename en ingeligte gids!  Wat ‘n ongelooflike dag!  Wat is nou lekkerder om die klowe in te vaar met ‘n hond as gids!  
Skollie het ‘n slang, paddas, ‘n bul, voels en ‘n koggelmander vir ons uitgesnuffel!  


Dit was ‘n wonderwereld van groot bome, varings, aronskelke en kristalhelder water.  Daar is bome wat my aan die Gummi bears se tonnels laat dink het! 


  Met die terugstap is ons amper deur ‘n bul gejaag wat vir groot opwinding by BB gesorg het.  

Die plaas maak seker dat hul boerdery luiperd vriendelik is en het drie Anatoliese herdershonde.  Dit is belangrik om te weet dat mens geensins die honde moet roep of aandag gee nie.  Hulle moet deel wees van hul trop skape.  Volgens Anina werk die metode baie goed en verloor hul nie skape aan roofdiere nie.  Regtig so bly dat daar boere is wat omgee vir hul omgewing en bereid is om die ekstra onkoste aan te gaan om omgewings vriendelik te boer.  Dankie Anina en Quintis!

Ons het na die staptog ‘n ent gaan ry.  Ons het weer by Zaaimanshoek  ‘n draai gaan maak.  Daar was baie bobbejane en apies langs die pad en ook ‘n groot likkewaan.  Die likewaan was te vinnig vir my kamera!  Later die middag was ons terug by die karavaan en het besluit om in die poele te gaan afkoel.  Hier het ons krappe en’n pragtige helderkleurige Kingfisher gesien.  Donderwolke het egter weer saamgedrom en ons middag kortgeknip.  BB se plakkies het ook gebreek toe sy in die modder vasgesit het en G4 moes haar terug dra!  Die kranse om ons was vol bobbejane wat soms baie luidrigtig baklei het.  Die weer was nogals erg maar dit was heerlik om in die karavaan te sit so mid storm.  Ons het besluit om onder dak te braai naby die wasgeriewe.  Dit was verbasend droog het ons het heerlik geeet.  Nagereg was klapper malvalekkers oor die kole gebraai.  Daar is niks lekkerder as dit nie.  Die effens verbrande klapper vorm ‘n heerlike kontras met die soet malvalekker.


Later in die karavaan het ons vir BB van die spookmeisie van Uniondale vertel.  Sy het ons met groot oe aangekyk maar tog gou aan die slaap geraak!
Die volgende oggend met ons vertek het ons vir haar Anton Goosen se “blommetjie gedenk aan my” gespeel, net om ons storie te beaam.  Ons sou oorspronklik teruggery het Willowmore se kant toe en moontlik Addo se kant toe mik.  Die weer was egter nie lekker nie en ons hoor toe dat die pad Patensie toe goed is met min water.  Ons besluit toe om eerder Patensie uit te ry, al het ons nie ‘n viertrek nie.  Die pad was werklik baie beter as toe ons dit met die motorfiets gedoen het.  Die wonderlike ding omtrent die Baviaans is dat dit elke keer as jy dit ry anders is.  Water versamel op verskillende plekke en die vorige keer se moeilike plek is nou verspot maklik terwyl ‘n vroeer maklike driffie nou nogal tegnies uitdagend is.  Aankomende verkeer was nogal erg, seker omdat dit Paas Vrydag was.  Al wat ek kan se, Suzuki eienaars, werklik, kners minder tande en geniet die rit meer!  Viertrek ry is nie so erg of ernstig nie!  Ontspan en glimlag vir ander mense op die pad!
Dit het alweer gereen en die berge was taamlik toe onder die mis.  


By die ingang het ons ander mense van Groblersdal ontmoet.  Wat ‘n onaangename man.  Eers kla hy oor die koue (dit was 20 grade) en toe G4 vir hom van al die wild vertel, vertel hy ons hy bly minder as 100km van Kruger af so wild is nie vir hom iets snaaks nie.  Mag ek net nooit so blasé teenoor die natuur  raak nie..

Ons het besluit om in Jeffriesbaai te oornag en het nogal verbasend vinnig verblyf gekry, en dit oor ‘n lang naweek!  Die Savoy is nou nie 5ster akkommodasie nie en die bad was koud, maar ek dink R550 vir 3 persone is goedkoop genoeg.  Ek le lekker en skryf aan die blog terwyl BB en G4 weerskante van my slaap op witter as wit beddegoed,  wat meer wil ‘n vrou en ma hê?!  Ek is egter spyt dat G4 so gou wil terugkeer huis toe en besef weer ietsie begin hinder..

PS..Skollie was intussen al dikwels in die nuus..in Die Burger se Buite van 31 Maart 2015 en ook hier.  Later ook hier.

No comments:

Post a Comment